Search This Blog

Wednesday, 4 October 2017

Die dag toe Mike die lemoene afgelaai het


Geniet hierdie kortverhaal uit die pen van Miekie (Marietjie Uys).

Mike is ‘n tevrede man. Dit was ‘n goeie oesjaar gewees en die bome wat nou so leeg staan het ‘n week terug nog geel van die lemoene gehang. Lekker vet en sappig. Die oes is nou in en alle teikens is oorskry. So kan ‘n man mos boer! Hy vryf oor sy maag wat nie heeltemal so plat is as wat dit ‘n paar jaar gelede nog was nie en frons.
Hy hoop nie dit sit die vroumens te veel af nie. ‘n Man kan nogal selfbewus raak oor so ‘n maag wat hom vooruit begin loop in die lewe. Dis nie dat hy nie na homself kyk nie. Hy kan kook. Dis net dat braaivleis soveel lekkerder is. En as ‘n man laat in die aand van die boorde af in die huis kom dan is jou dieet nie voorop in jou gedagtes nie. Hy sug.
Waarvoor het hy hom tog nou weer ingelaat? Ja, hy sou nou nie omgee om ‘n vroumens in sy lewe te hê nie. Inteendeel, dit sou mos nou darem lekker wees om nie so aand na aand by ‘n stil huis aan te kom met net RSG as geselskap nie. Hy onthou hoe die reuk van vars gebak in die huis gehang het toe sy ma nog geleef het. Dit het ‘n man se honger sommer laat regop staan en salueer as jy nog daar anderkant aankom. Sou die vroumens kan bak, of is sy een van daai moderne soort wat alles by Woolies loop koop?
Kyk waar staan die tyd al! Hy sal moet loop klaarmaak anders gaan hy laat wees. ‘n Man wil nou nie op ‘n slegte voet begin nie. Wanneer laas het hy klaargemaak om ‘n vroumens te ontmoet? Hy kan nie eens onthou nie. Erens na die ongeluk wat sy ouers se lewens geëis het, en vandag, het die bestuur van die plaas hom ingesluk. Dis nou maar eers die afgelope jaar of wat dat hy weer begin hunker na ‘n lewensmaat. Maar waar soek jy nou na iemand as al jou verhoudings net met die boerdery te doen het en al die vrouens wat jy teëkom reeds gering is? Nee, jy berus maar by jou lot en maak vrede met die idee dat jy alleen gaan oud word. En dan werk jy nog harder, want daar is nie veel anders om te doen nie. Tot jy ‘n oproep kry soos die een van gisteraand.

Hy was in die stort toe hy die telefoon hoor lui en moes skarrel om betyds te antwoord. In die proses het hy ‘n nat spoor van die badkamer tot die sitkamer gelos en nog die tafel met die bak vrugte ook omgestamp. Daar staan hy toe druppend, soos Adam van ouds, tussen die vrugte met die moderne selfoon in die hand. Waarom hy nie maar die ding saam met hom piekel nie, kan hy nie van homself verstaan nie.
“Hallo.” Sy groet is kortaf, want hy is vies vir homself.
“Haai! Mike?”
“Ja.” Wie anders sou dit nou wees?
“Willem hier. Hoe lyk dit?”
“Willem! Goed my ou maat! Hoe lyk dit by jou?” Hy ontspan. Sekere mense het die vermoë om oombliklik jou vrede te herstel, en Willem is een van hulle.
“Goed. Goed.” Willem huiwer. “Man, eintlik wil ek ‘n bietjie van ‘n moeilike saak aanraak.”
Mike verstyf. Dit klink nie goed nie. Die bekende frons kom sit hier tussen sy wenkbroue. Hy hoop nie een van Willem se kameelperde het weer deur die drade gebreek en by sy bome uitgekom nie.
“Laat ons hoor.” Daar is net een manier van praat tussen hierdie manne en dit loop ‘n reguit pad.
“Man, Hermien het my nou opgesteek om die ding te doen, en dan moet ‘n man mos maar deurdruk as hy in vrede wil gaan slaap.”
Mike ontspan so effens. As dit vroumense aangaan, dan raak dit nie sy plaas nie en dan kan die saak nie te ernstig wees nie.
“Laat ons maar hoor. ‘n Man wil nou nie verantwoordelik wees vir onvrede in ‘n ander man se huis nie.” Daar is onderdrukte lag in sy stem.
“Man, Hermien het ‘n vriendin wat hier kuier. Uit die stad.”
“Ja?”
“En ons het gedink ons wil braai.”
“Ja?”
“En nou wil sy hê ek moet jou nooi om saam te braai.”
Die gesprek word stil.
“Is dit omdat ek nie getroud is nie?”
“Ja.”
Die stilte herhaal homself, maar hierdie keer is hy meer selfgeldend.
“Is dit die moeite werd vir my?”
“Man, sy is nou nie ‘n model nie, maar heel oulik. Vriendelik en so meer. En intellegent. Weet nie veel van boer nie, maar sy stel darem belang. Sy het al ‘n brief gestuur vir Boer Soek ‘n Vrou. So, sy sal nie omgee om van die stad af pad te gee nie.”
Mike dink diep voor hy antwoord. Hy was nie gereed vir hierdie gesprek vanaand nie, maar dis dalk net die geleentheid waarvoor hy gewag het. Hy was nog altyd ‘n man wat ‘n besluit kon maak as die nood druk en toe hy uiteindelik antwoord, hoor hy homself vra na die tyd.

Dit was gisteraand. Nou staan hy hier met vier hemde op die bed oopgeprei en wonder wat ‘n man aantrek as jy saam met ‘n stadsmeisie gaan braai op jou buurman se plaas. Daar is net een hemp in sy kas wat nie khaki is nie en toe hy die aanpas toe span die knope so styf dat hulle herinner aan ‘n klip in ‘n styfgetrekte rekker. Die kerkhemp is te formeel. Dit laat hom met die vier nuutste elke-dag-hemde om uit te kies. Geïrreteerd gryp hy die naaste hemp van die bed af en ryg dit oor sy kop. Hierdie vroumens-ding haal nie die beste uit hom uit nie. Hy sal homself moet regruk.
Oppad deur toe, stop Mike eers gou by die drank-kabinet. Hy steek sy hand uit om ‘n bottel rooiwyn te vat toe hy eers weer huiwer. Daar is geen twyfel by hom dat hulle vanaand rooivleis gaan braai nie, maar wat as die vroumens witwyn verkies? Droog of soet? Hy besluit om wit en rooi te vat en maak seker dat een van hulle semi-soet is. Daar behoort darem nou iets te wees wat in haar smaak val. Hy gryp ‘n six-pack uit die yskas.
Buite staan die bakkie blink gewas in die strale van die ondergaande son. Dis iets wat mens nou maar doen, al weet jy voor jou heilige siel dat daai bakkie oortrek gaan wees met modder voor jy by die buurplaas stop. Dit kan nie anders na die vorige nag se reën nie. Dit sal darem vars modder wees. Hy wonder of die stads-vroumens die verskil ken tussen ou modder en vars modder ken.
“Petrus!”
“Baas Mike?”
Hy het aan Petrus se knie grootgeword, maar die man weier om hom enige iets anders as Baas Mike te noem. Eers was dit Kleinbaas, maar na sy pa se dood het dit Baas Mike geword.
“Het jy vir my die lemoene gelaai?”
“Ja, Baas. Ek het ses sakkies opgesit.”
“Ses? Is dit nie te veel nie?”
“Eish! Maria, hy sê ek moet ses sakkies laai. Hy sê die baas moet nie arm lyk by die nôi nie. Hy sê die baas moet twee sakkies vir Baas Willem en Nôi Hermien gee. Dan die baas hy moet twee sakkies by die nuwe nôi gee. En dan die baas hy moet twee sakkies by die nôi se mense stuur.”
“Soos lobôla?”
“Lemoen-lobôla, my Baas. Die vroumense weet van die goed.”
“Die vroumense weet, Petrus. Dis reg so. Ses sakkies sal dit wees. Sala Kahle, Petrus.”
“Hamba Kahle, Baas Mike. En Baas Mike?”
“Ja, Petrus?”
“Ons kan die nôi leer van lemoene as sy nie weet nie, maar as sy nie lemoentaal praat nie, ons kan haar nie leer nie. Ons is ronde mense. Help nie om ‘n reguit vrou hier te bring nie, Baas Mike.”
Mike sluk hard. Petrus is soos ‘n pa vir hom en hy het baie van wat hy van boer af weet by die ou man geleer. Tog het Petrus hom nog nooit in Mike se privaat lewe in gewaag nie. Dit laat hom besef dat sy keuses vanaand meer as net homself raak.
“Ek sal kyk dat sy ‘n ronde nooi is, Petrus. Sala Kahle.”
“Hamba Kahle, Baas Mike. Ek sal die hek mooi toestoot agter die baas.”

Die vuur is reeds opgesteek toe hy op die plaas aankom. Dis ‘n klein groepie van drie wat daar staan en hom nuuskierg dophou. Hy vat sy tyd om uit die bakkie te klim sodat hy eers sy opmerkings kan maak. Nee, ‘n model is sy nie. Daarvoor is die bene te kort. Effens aan die ronde kant ook. Hy weet dis nie waarna Petrus verwys het nie, maar kan nie help om by homself te glimlag nie. Sy is dus ‘n ronde nooi. Self gee hy nie te veel daarvoor om nie. Dit gee ‘n man mos darem iets om vas te hou, anders as net ‘n sak styfgespande bene. Die gesig is nie te sleg nie, maar die hare is kort. Hy sou van so ‘n bietjie meer hare hou om sy vingers deur te trek. As klein seuntjie het hy altyd op sy ma se skoot gesit en met haar hare gespeel. Hy vererg hom vir homself. Hy’s mos darem nou nie meer ‘n klein seuntjie nie. Wat maak dit saak as die vrou nie genoeg hare op haar kop het nie? Sy het in elk geval meer as hyself. Hy maak die deur oop en plak die hoed op sy snel-groeiende bles. ‘n Man het darem net meer selfvertoue as hy jonger is en sy maag is plat en sy hare kan nog in sy oë hang as hy dit nie kort hou nie.
Hy voel soos ‘n dier op ‘n vendusie as hy naderstap, bewus van drie pare oë wat hom takserend op en af bekyk.
“Naand. Mike?”
“Ja, Annelie? Gaaf om jou te ontmoet.”
“Het jy nie tyd gehad om iets anders aan te trek nie?”
Mike dink terug aan die klere wat nat en vol modder in die bad lê en week nadah hy heel middag gespook het om die windpomp reg te maak.
“Hoekom?”
“Ek sien jy het nog jou werksklere aan.”
“Ek besit nie ‘n vryerskas vol klere nie. Jammer, hierdie sal maar moet doen.”
Hy oorhandig die drank aan Willem en wend hom dan tot Annelie. Hy kan hom nou vererg oor haar opmerking, maar hy het mos darem self ook gedink die hemp is nie die beste keuse nie.
“Ek het nie geweet of jy van wit- of rooiwyn hou nie, toe bring ek maar een van elk.”
“Is jy altyd so besluiteloos?”
Mike byt hard op sy tande en wikkel die pakkie sigarette uit sy bosak. Hy het die sigaret al tussen sy lippe en is opsoek na die aansteker toe sy haar volgende sarsie afvuur.
“Ek hoop nie jy is van plan om hier tussen ons te staan en rook nie.”
En toe sien hy dit. Die ding waarvan Petrus gepraat het. Voor sy oë verander die ronde vrou in ‘n reguit vrou. Haar skouers trek terug, haar rug trek reguit en haar hele lyf verstyf. Sy lig haar kop agteroor om hom in die oë te kan kyk, die lippe styf gespan.

Toe Willem die volgende oggend by die plaashek uitry, is hy verbaas om ses sakkies lemoene netjies opgestapel daar te vind. Ou Mike moes darem wragtig dik gewees het vir Annelie as hy nie eers haar lemoene wou huis toe ry nie!

Marietjie Uys (Miekie) is a published author. You can buy my books here:You can purchase Designs By Miekie 1 here.
Jy kan Kom Ons Teken en Verf Tuinstories hier koop.
Jy kan Kom Ons Kleur Tuinstories In hier koop.
Jy kan Tuinstories hier koop.
You can follow Miekie's daily Bible Study blog, Bybel Legkaart, here in English & Afrikaans.
You may prefer to follow the traveling blog, A Pretty Tourist.
For more crafty ideas and great product reviews, visit A Pretty Talent on Facebook.
If you are in a literary mood, follow Miekie's musings, stories and poetry on A Pretty Author - Miekie.
Remember to keep nurturing your TALENT for making life PRETTY.
You can subscribe to any of these blogs and receive regular updates by email. Simply register your email address at the top of the applicable blog.

Leer van leed

My Vader, kan ek by U leer van menseleed en hul hartseer, want in myself is ek beperk, soek uitkoms in 'n wonderwerk Maa...